Bookmark : http://www.muratie.co.za/news/events-calendar/voorsmaak-kunstenaar-op-muratie/?id=20&entryId=37
Skip to : [Content] [Navigation]

Muratie WinesWine BarrelsMuratie artwork


Events at Muratie

Voorsmaak: Kunstenaar op Muratie

26 Feb 2011

Voorsmaak: Kunstenaar op Muratie

2011-02-26 17:17 - Melvyn Minnaar

Op Afrikaans het die woord “murasie” meer van ’n wankelmoedige, afbrekende betekenis: ’n plek wat ten gronde verval het. Met die Nederlands geïnspireerde “t” in die naam, kom die bekende Stellenbosse wynlandgoed tot sy idilliese, historiese reg. Met ruïne as romantiese raamwerk, is Muratie inderdaad ’n plek van dinamiese dinge.

Daar is min ander wynlandmerke wat so wonderlik teatraal met sy diep en kleurryke geskiedenis omgaan. Nodeloos om te sê Muratie is ’n moet-sien/moet-proe-tenkstop op enige wyntoeris se reisplan. En in die laaste jare is die elegante en eiesoortige wyne ’n gepaste weerspieëling van dié landgoed se kleurryke, ryk en sosiale verlede.

Op ’n hittige dag (wat sy eie eise aan die wynmaker Francois Conradie en sy span stel terwyl die nuwe oes se druiwe inkom), wys Rijk Melck, baas van die familieplaas, ’n paar grootoog-besoekers rond. Hy het sy vingers op die pols en gesels gemaklik oor die verlede. “Dit is vir my altyd ’n plesier om oor die plaas, sy geskiedenis en die wyne te praat.”

Besoekers kom deesdae van oral om die wyne te kom ervaar en hulle in die geskiedenis te verlustig. Dié twee dinge loop hand aan hand hier, want die Melcks doen alles in hul vermoë om die atmosfeer van ongekunsteldheid te handhaaf. Met ouderwetse wyngoed, spinnerak-drapeersels en wynsteensuur-mure is die voorkelder ’n plek vir kuier en gesels. Jy stap nie hier gou in en weer uit nie.

Tog was daar ’n stadium toe vriende en klante ook die plek besoek het vir die kunswerke wat in die kunsateljee langs die kelder gehang het. Dit was die werk van die plaas se bekende eienaar, Georg Paul Canitz. Dié man het vele belange en belangstellings gehad en een van sy drifte was om prente te maak.

Reeds as Duitse seun in Sakse het hy homself as kunstenaar gesien. Dekades later, in Stellenbosch, het hy selfs tekenklasse gegee en ’n professionele ateljee onderhou. Hy het die land deur gereis om te skilder.

Toe die 53-jarige Canitz op 23 Maart 1926 saam met sy vennoot, George Albert Muschner, die effe vervalle plaas Muratie van ene Philip Wouter Lotz koop, het ’n nuwe hoofstuk in dié kleurryke karakter se lewe begin. Dit sou vele dekades lank duur. En selfs met sy eie eksentrieke ambience het dit ná sy dood in 1959 voortgeleef deurdat sy ongetroude dogter Annemie die tradisies tot haar dood in 1991 sou voortsit.

Watter Stellenbosse student van die 1970’s onthou nie hoe hulle met haar en die wynmaker Ben Prins te doen gehad het in onderhandelinge vir ’n paar bottels Muratie sonder etikette nie?

Etikette is juis waarvan ons oor die eetkamertafel op dié warm oesdag praat. Rijk, seun van Ronnie wat in 1987 Muratie vir die Melcks “teruggekoop het” (die bekende voorganger Martin Melck was in die laat 18de eeu die eienaar), het duidelik ook ’n kinkel vir die kunste.

Hy het dit sy taak gemaak om soveel moontlik van G.P. Canitz se kunswerke vir Muratie se versameling terug te kry. Nadat ons die prente in die kelder en voorhuis bekyk het (daar is reeds meer as 20) en Canitz se temas bepeins het (mooi vroue in netjiese pastel, landskappe in water- en olieverf) sit ons met sy jongste bottel Muratie George Paul Canitz Pinot Noir 2009 op die tafel.

Die bottel het ’n splinternuwe etiket: eenvoudig en elegant met ’n prent van Canitz wat jou vol in die oë kyk: Canitz, die jong Duitse avonturier, in klassieke, formele ruiterdrag. Dit kom van ’n olieverfskildery wat langsaan in die voorkamer hang. Hoeveel jare het besoekers al dié skildery bewonder. Dit is geskilder deur ’n Hongaarse skilder, ene Toni Aron (1859 – 1920, volgens sommige bronne), wat ook portrette van ander lede van die destydse Canitz-gesin geskilder het. (Canitz en Aron het mekaar waarskynlik geken, want daar is ook duidelik styl-ooreenkomste in die twee se skilderye.)

Vandag pryk die ruiter in sy rooi gewaad op ’n skitterende wyn, ’n huldeblyk aan die flambojante eienaar wat Muratie in die 1920’s as wynplaas gevestig het. Kuns en wyn in eervolle ontmoeting.

Die storie is eintlik heel eenvoudig. Muratie was die eerste plaas in Suid-Afrika waar wyn gemaak is van pinot noir-stokke. Destyds beroemd vir pinot noir, was dit Rijk Melck se persoonlike passie om uiteindelik ’n top-wyn te maak en só die man te huldig wat dit indertyd eerste geplant en gemaak het.

Onder Canitz, ’n gasheer soos min, se wye vriendekring was die bekende wynbou-professor Abraham Perold. Dié se geesdrif vir wingerd en wyn het Canitz se kunstenaarsin vir avonture perfek gepas en saam het hulle die grondslag van Muratie as wynplaas gevestig. Die pinot noir is in 1927 geplant, ’n jaar nadat Canitz die plaas bekom het, en dieselfde jaar dat Perold se skepping, pinotage (’n kruising van pinot noir en cinsaut), amptelik in sy tuin op Stellenbosch geïdentifiseer is.

Muratie-pinot noir was jare lank die eerste en enigste. Maar dit was ’n stil geskiedenis.

Ons bekyk die mooi bottel so. Proe die voortreflike ryk, sagte rooi met sy verruklike geure en stem saam: uitstekende hulde aan die Canitz van die plaas. Dit het net daardie iets wat ook G.P. so in Stellenbosch en die wyngeskiedenis laat uitstaan. ’n Heildronk op ’n kunstelike verlede. En toekoms.

 

Wie | Waar

www.muratie.co.za

Om aan te skaf

Muratie George Paul Canitz Pinot Noir 2009: intens, fyn-gestem en elegant, klassiek.

Muratie Isabella Chardonnay 2010: eweneens Boergondies-geïnspireerd: rokerig en fyn.

Muratie Ansela van de Caab 2007: Bordeaux-styl, maar ook uniek, sag, kompleks.

Muratie Laurens Campher 2009: die nuwe wit versnit met soomlose kompleksiteit, mooi.

Werd om te weet

Mense het van heinde en ver gekom om “Muratie Burgundy” te koop. Sowel die 1976- as 1977-oesjaar is destyds vir die Nederburg-veiling gekeur.

*****

In die boek The Complete Book of SA Wine van 1983 word die wynmakery en atmosfeer destyds op Muratie (met die wynmaker Ben Prins) beskryf as dat daar “a sense of the humanity of wine” heers. Dertig jaar later, saam met die innemende wynmaker Francois Conradie (wat tans sy sesde oes inbring), is dit duidelik nog die gevoel op die plaas. Dit léwe daar.

http://www.rapport.co.za/MyTyd/Nuus/voorsmaak-Kunstenaar-op-Muratie-20110216

Tasting Hours

Monday to Friday: 10h00 to 17h00
Saturday: 10h00 to 17h00
Sunday: 10h00 to 17h00

Newsletter